Opvolger vir Dordtse Sinode beplan
2009-10-22 10:10
Leopold Scholtz
Brussel – ’n Groot Gereformeerde Sinode, bedoel as die opvolger vir die Dordtse Sinode van 1618, word in Nederland beplan.
Die organiseerder is ’n predikant uit Kampen, ds. Gerrit de Fijter.
Op die destydse Sinode is onder meer die Dordtse Leerreëls aanvaar, wat sedertdien saam met die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis die belydenisskrifte van alle gereformeerde kerke vorm.
Die idee is nie om dié belydenisskrifte aan te pas of aan te vul nie, maar om die buitengewoon verdeelde Nederlandse Gereformeerde familie bymekaar te bring, aldus De Fijter in ’n onderhoud met De Volkskrant.
Ds. Eric Peels van die Christelijke Gereformeerde Kerken het aan die ortodokse Calvinistiese Nederlands Dagblad gesê die sinode wil ’n boodskap laat hoor “waarin ons, hoe verskillend ons as Protestantse kerke ook al is, met een stem praat”.
Die gereformeerde kerkfamilie in Nederland het van 1834 heeltemal versplinter in meer as 30 kerkgenootskappe.
Die laaste skeuring het in 1944 plaasgevind, ironies op ’n tydstip dat Nederland gesug het onder die Nazi-hiel.
Die meeste skeurings het gegaan oor vrae soos onder meer of die slang in die paradys werklik met Eva gepraat het en of die profeet Bileam werklik die esel verstaan het.
- Die Burger