Oostenrykse polisie ondervra Gaddafi-vertroueling
2011-03-04 09:59
Wene – Oostenryk se teenterreur-polisie het een van Muammar Gaddafi se vertrouelinge onder kruisverhoor geneem.
Die polisie het Mustafa Zarti ondervra nadat hy verlede week uit Tripoli, Libië, gevlug het en in Wene toevlug gesoek het, het Maria Fekter, minister van binnelandse sake, Donderdag gesê.
Fekter het in ‘n onderhoud met die televisiekanaal ORF gesê Zarti is talle ure ondervra en daarna vrygelaat.
Zarti, adjunk-voorsitter van die Libiese beleggingsowerheid, het na Gaddafi se bates in Oostenryk omgesien en op 21 Februarie toevlug in Wene gaan soek.
Volgens Die Presse is die bates wat ter sprake is amper €22 miljard (sowat R212 miljard) werd. Dié daaglikse koerant het ‘n anonieme bron wat na aan die Libiese leier was, aangehaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP