Onwettige mynwerkers vasgekeer ná ontploffing
2012-11-22 16:45
Manila – Minstens drie mense is vasgekeer en glo dood na ‘n ontploffing ‘n onwettige goudmyn in die Filippyne geruk het, het die regering Donderdag gesê.
Dinamiet wat Dinsdag in die myn gebruik is het ‘n mynskag erg beskadig, wat veroorsaak het dat seewater in die skag inloop, het Leo Jasareno, ‘n regeringsamptenaar, gesê.
Ondersoekbeamptes sê dat minstens drie mynwerkers in die ondergrondse skagte vasgekeer is. Daar is vrese dat nog mynwerkers vermis word.
“Daar is ‘n verslag van ‘n man wat beweer dat hy ontsnap het. Hy sê 11 van sy medewerkers is nog in die tonnel vasgekeer,” het Jasareno gesê.
Die myn, plaaslike regering en die polisie is besig met reddingspoging, maar Jasareno sê hulle is nie te optimisties nie.
“Die vooruitsigte lyk sleg, veral as jy in gedagte hou dat die skagte nou onder water is.”
Rafael Alejandro, ‘n plaaslike regeringsamptenaar, het gesê hy is onseker oor hoeveel mense nog in die skag is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP