Ontvoerder wou glo vrou se baba steel
2009-12-09 04:59
Maryland – Volgens die polisie in Amerika is ‘n hawelose, swanger vrou sowat vyf dae lank in ‘n woonstel aangehou waarna haar ontvoerder glo probeer het om haar baba uit haar maag te sny.
Die 40-jarige verdagte, Veronica Deramous, het glo vriende gemaak met die swanger vrou wat ook haweloos is. Deramous het die vrou na haar woonstel genooi waar sy glo vir haar babaklere wou gee.
Volgens die polisie het die verdagte die swanger vrou oorval en vasgebind.
Etlike dae later kon die swanger vrou daarin slaag om te ontsnap nadat Deramous probeer het om haar ongebore baba uit haar maag te sny.
Deramous is in hegtenis geneem en staar nou verskeie klagtes in die gesig.
Die slagoffer sterk glo goed aan. Sy het later geboorte geskenk aan ‘n baba dogtertjie, wat sy Miracle gedoop het.
–Sapa, AFP