Ontvoerde Franse toeriste na Nigerië verskuif
2013-02-20 09:20
Yaounde – Gewapende mans wat sewe lede van ‘n Franse familie in Kameroen ontvoer het, het hulle oor die grens na Nigerië geneem, het Kameroen se regering gesê.
Die familie – ‘n paartjie, hul kinders, wat onderskeidelik vyf, agt, 10 en 12 is, en die kinders se oom – is Dinsdag deur ses gewapende mans op drie motorfietse ontvoer.
Die ontvoering van die vakansiegangers kom te midde vrese van Islamitiese vergelding oor Frankryk se militêre aanvalle teen groepe in Mali wat met Al-Kaïda verbind is.
“Die ontvoerders het oor die grens na Nigerië gegaan met hul gyselaars,” het Kameroen se ministerie van buitelandse sake in ‘n verklaring gesê wat op die staatstelevisiekanaal en oor die radio uitgesaai is.
Die familie is vroeg Dinsdag by Sabongari, sewe kilometer van die noordelike dorp Dabanga naby die Nigeriese grens, ontvoer, het die ministerie gesê.
Die toeriste het vroeër die Waza Nasionale Park in die noorde van die land besoek, het ‘n bron na aan die Franse ambassade in Kameroen gesê.
Die Franse energiegroep GDF Suez het intussen bevestig dat een van sy werkgewers wat in Kameroen se hoofstad Yaounde gebaseer is, saam met sy familie ontvoer is terwyl hulle in die noorde van die land met vakansie was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP