Ontsnapte roofdiere doodgeskiet
2011-10-20 08:02
Columbus – Inwoners van die Zanesville-omgewing het Woensdag beangs binnenshuis gebly nadat ’n klomp gevaarlike roofdiere van ’n plaas ontsnap het.
Die eienaar van die plaas het selfmoord gepleeg. Die hokke van die diere, wat leeus, tiere, jagluiperds en bere insluit, was oopgemaak.
Die oorsaak van Terry Thompson, plaaseienaar, se dood is nog nie bekend nie. Sy lyk is Dinsdag gevind nadat die polisie gaan ondersoek instel het ná berigte van diere wat los rondloop.
Skole is Woensdag gesluit en inwoners gemaan om binnenshuis te bly terwyl die owerheid op die diere jag gemaak het.
Altesaam 48 diere het ontsnap.
Talle is doodgeskiet nadat sheriff Matt Lutz van die Muskington-distrik ’n bevel uitgereik het dat die diere doodgeskiet moet word, maar dié bevel is teen dagbreek Woensdag teruggetrek en jagters het oorgeslaan na doofpyle.
Minstens agt diere, wat as “groot katte” beskryf is, was teen Woensdag nog soek.
Een amptenaar het die syfer egter hoër geraam.
“’n Polisielid, ’n natuurbewaarder en ’n veearts is op die plaas ontplooi om die sowat 14 tot 15 diere wat nog soek is, op te spoor,” het Kim Hambel, direkteur van operasies van die Muskington-distrik se polisie, gesê.
Volgens Lutz het sy personeel vroeër sowat 25 diere doodgeskiet.
Thompson het al telkens met die gereg gebots. Hy is vroeër vanjaar in hegtenis geneem weens die onwettige besit van sowat 100 vuurwapens. – Reuters
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld