Ontploffings ruk Afganistan
2013-02-24 10:00
Kaboel – Twee sekuriteitswagte is dood in 'n selfmoordbomaanval by 'n kantoor van die intelligensie-agentskap in Afganistan, het beamptes hesê.
'n Motor het vroeër die hek van 'n skuiling wat die nasionale direktoraat van sekuriteit gebruik, aangekom en ontplof. Die voorval het in die stad van Jalalabad plaasgevind.
Twee sekuriteitswagte is dood en drie ander beseer, het Ahmad Zia Abdulzai, woordvoerder van die regering, gesê.
Die gebou is ook beskadig in die voorval.
Zabiullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
Kort voor dié aanval het 'n persoon 'n voertuig met plofstowwe by 'n polisiekontrolepunt op 'n hoofweg in die Logar-provinsie gedetoneer. Drie polisiebeamptes is beseer, maar niemand het gesterf nie, het Rais Khan Abdul Rahimzai, adjunkpolisiehoof, gesê.
In 'n afsonderlike voorval is twee vermeende selfmoordbomaanvallers Sondag in 'n motor naby 'n bouterrein in Kaboel doodgeskiet, het 'n polisiebeampte gesê.
Die mans is in hul motor in Wazir Akbar Khan, waar die meeste buitelandse ambassades geleë is, doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP