Ontploffing ruk hofgebou in Amsterdam
2011-09-21 13:24
Amsterdam – Die Nederlandse hoofstad se hofkompleks is beskadig nadat ‘n ontploffing in die vroeë oggendure by die geboue plaasgevind het.
Ivo Opstelten, minister van justisie en verdediging, het gesê die ontploffing is ‘n aanval op die Nederlandse regstelsel.
Luidens berigte het die ontploffing Woensdagoggend om 02:30 gebeur.
Die polisie ondersoek tans die oorsaak van die ontploffing, wat verskeie verdiepings by een van die torings van die hofgebou beskadig het.
Niemand is in die voorval beseer nie.
“Dit was ‘n aanval op die regstelsel,” het Opstelten aan die nasionale uitsaaier, NOS, gesê. Hy het bygevoeg dat hofverrigtinge sal voortduur.
Beeldmateriaal op televisiekanale het gewys hoe werkers gebreekte glas uit vensterrame verwyder en het ook aandag op ‘n klein gat in een van die betonmure gevestig.
NOS berig dat ‘n projektiel waarskynlik in die rigting van die gebou afgevuur is en ‘n stel trappe getref het.
“Ons moet vasstel wie die aanvallers is en uitvind wat die motief is,” het Opstelten. "Dis ‘n ongelooflike vlak van geweld.”
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP