Ontploffing op olieplatform, 11 vermis
2010-04-22 05:04
New Orleans – Reddingswerkers in helikopters en bote het Woensdag in die Golf van Mexiko gesoek na 11 werkers wat vermis geraak het toe 'n ontploffing Dinsdagaand 'n enorme olieplatform geruk het.
Sewentien mense is in die voorval beseer, vier van hulle krities.
Die ontloffing aan boord die Deepwater Horizon-platform sowat 80 kilometer van die kus van Louisiana is een van Amerika se dodelikste olieboor-ongelukke die afgelope 50 jaar.
Die kuswag hoop in dié stadium dat die vermiste werkers ontsnap het op een van die platform se bedekte reddingsbote.
"Ons hoop maar almal is in 'n reddingsboot," het Mike O'Berry, 'n woordvoerder vir die kuswag, gesê.
Intussen woed 'n brand steeds op die olieplatform, en owerhede kan steeds nie sê wanneer dit uitgewoed sal wees nie.
- Sapa - AP