Ontploffing eis 15 by begrafnis
2012-01-28 10:00
Bagdad – Minstens 15 burgerlikes is Vrydag dood in ’n bomontploffing by ’n begrafnis in die Sjiïtiese gebied van die Irakse hoofstad.
Nóg 35 mense is beseer toe ’n aanvaller sy motor vol plofstof laat ontplof het, het mediese en noodbeamptes gesê.
Die begrafnis is gehou vir ’n senior polisiebeampte se broer wat Donderdag in ’n ander bomaanval dood is.
Vrydag se aanvaller het na verneem word ’n nabygeleë polisiegebou geteiken, maar toe hy nie daarin kon slaag om naby die gebou te kom nie, het hy homself opgeblaas.
Vroeër die maand is minstens 20 Sjiïtiese pelgrims dood toe hulle die teiken was van ’n selfmoordbomaanvaller. Hulle was na ’n godsdienstige byeenkoms in die suide van Irak onderweg.
Irakkese vrees toenemende geweld ná die laaste Amerikaanse troepe in Desember uit die land onttrek is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA