Ontploffing by tronk eis 17 wat wou ontsnap
2011-07-12 18:23
Almatay, Kazachstan – ‘n Skietery tussen gevangenes en
sekuriteitswagte by ‘n tronk in Kazachstan het geëindig met ‘n kragtige
ontploffing wat 17 lewens geëis het.
Sestien gevangenes en een sekuriteitswag is in
die ontploffing in Balkhash in die suidooste van Kazachstan oorlede.
‘n Woordvoerder van Kazachstan se departement
van korrektiewe dienste, Sultan Kusetov, het bygevoeg dat ‘n hele aantal
sekuriteitswagte tydens die skietery beseer is.
Volgens Kusetov het ‘n mislukte
ontsnappingspoging tot die skietery, wat ‘n dag lank aangehou het, gelei.
“Ons het daarin geslaag om seker te maak dat diegene wat wou
ontsnap, nie weggekom het nie,” het Kusetov gesê.
Hy het gesê die ontploffing is óf deur ‘n koeël
wat per ongeluk ‘n suurstoftenk getref het veroorsaak, óf die gevangenes het
hulself opgeblaas toe hulle besef het hul ontsnappingspoging was ‘n mislukking.
Daar was die afgelope paar jaar verskeie
voorvalle van onluste in Kazachstan se tronke.
Die Europese Unie het ook dié gewese
kommunistiese staat gekritiseer ná teenstanders van die huidige regering in
die tronk beland het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP