Onderwysers sterf raaiselagtig in Bangkok
2012-12-08 13:10
Bangkok – Die lyke van twee Engelse onderwysers, 'n Amerikaner en 'n Brit, is langs mekaar in 'n woonstel aan die buitewyke van Bangkok gevind, het die polisie in Thailand Saterdag gesê.
Die mans, wat 40 en 35 jaar oud is, se lyke is vroeg Saterdagoggend gevind, het lt. kol Chamnong Kongtapan, hoof-ondersoekbeampte by die plaaslike polisiekantoor in die Pathum Thani-provinsie, gesê.
Die polisie, wat nog die oorsaak van die mans se dood moet bepaal, het 'n leë medisynebottel van 'n dwelmrehabilitasiesentrum in die kamer gevind.
"Die naam van die Britse man was op die bottel, maar ons weet nie watter tipe dwelms daarin was nie," het Kongtapan gesê en bygevoeg dat daar geen tekens van beserings op die mans se lyke was nie.
Hy het ook gesê daar was geen bewyse dat 'n struweling plaasgevind het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP