Onderwyser vas wat seuns in stort afneem
2011-12-29 11:12
Somerville, New Jersey – ‘n Onderwyser wat ‘n kamera in ‘n stort versteek het, het vir drie jaar lank tienerseuns by ‘n Katolieke skool afgeneem, het amptenare gesê.
Patrick J. Lott, wat verlede week in hegtenis geneem is, is Woensdag daarvan aangekla dat hy studente in die stortarea by Immaculata Hoërskool sedert Januarie 2008 afgeneem het.
Die aanklaer se kantoor het bekendgemaak dat daar minstens 22 slagoffers was en dat nege seuns wat in die video’s geïdentifiseer is tans onder die ouderdom van 16 is.
Die 54-jarige Lott, wat ‘n assistenthoof by ‘n publieke laerskool is, het vrywillige werk by die Katolieke skool gedoen. Amptenare het geweier om verdere besonderhede oor sy posisie by die skool bekend te maak.
Amptenare by Immaculata het aanklaers in kennis gestel nadat hulle aantygings van onbehoorlike optrede deur Lott ontvang het. Hy is later verbied om betrokke te wees by die skool.
Video-beeldmateriaal van seuns wat saam stort is op 13 en 16 Desember in Lott se huis gevind, het aanklaer Geoffrey Soriano gesê.
Speurders het later op die versteekte kamera afgekom, het sy kantor gesê.
Lott het min gesê tydens sy verhoor. Sy prokureur, James Wronko, het nie die verhoor bygewoon nie en was nie telefonies beskikbaar nie.
Borgtog vir Lott is op $500 000 (sowat R4 miljoen) vasgestel, op voorwaarde dat hy geen kontak het met enige kind onder die ouderdom van 16 nie.
Hy mag ook geen kontak hê met enige van die seuns op die video nie en ook nie met enige van die personeel by Immaculata nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP