Onderwyser skiet hoof, adjunk
2010-02-11 05:42
Knoxville, Tennessee - 'n Laerskoolonderwyser is aangekla daarvan dat hy Donderdag 'n skoolhoof en onderhoof geskiet en gewond het, sowat 'n halfuur nadat die leerlinge huis toe is.
Mark Stephen Foster (48) staar twee klagtes van moord in die gesig na die skietery by die Inskip-kleuterskool. Hy is glo 'n graad-4 onderwyser.
'n Voormalige kollega van Foster het gesê die verdagte is in die jare negentig in hegtenis geneem nadat hy glo vuurwapens na sy werk toe geneem het.
Beamptes by die Tennessee Universiteit se mediese sentrum het gesê Elisa Luna (hoof) is in 'n kritieke toestand, terwyl adjunk-hoof Amy Brace stabiel is.
"Ons is geskok deur die tragedie," het skoolsuperintendent James McIntyre Jnr. gesê. "Gelukkig was daar geen leerlinge betrokke nie."
Die polisie kon nog nie die motief agter die skietery vasstel nie. Volgens McIntyre was die skool nie van plan om Foster in die volgende kwartaal weer in diens te neem nadat sy kontrak verstryk nie.
- AP