Onderhandelings duur voort in Amerikaanse gyseldrama
2013-01-31 10:47
Midland City – ‘n Gewapende man wat ‘n busbestuurder doodgeskiet en ‘n vyfjarige kind gyselaar geneem het, is steeds in ‘n ondergrondse skuiling saam met die kind, terwyl die polisie Woensdag deur die nag by sy eiendom gewaak het.
Polisiespanne het die man se plattelandse eiendom omsingel en die polisie se onderhandelaars het hom probeer oortuig om die kind vry te laat.
Woensdag is berig dat die kind ses jaar oud is.
Die gewapende man, wat deur sy bure as Jimmy Lee Dykes geïdentifiseer is, is ‘n 65-jarige afgetrede vragmotorbestuurder.
Hy het glo al ‘n hond met ‘n pyp doodgeslaan, skoolkinders wat sy eiendom betree het, gedreig, en hy patrolleer sy eiendom in die aande met ‘n flits en haelgeweer.
Hy sou Woensdagoggend in die hof verskyn het nadat hy verlede maand sy bure geskiet het tydens ‘n dispuut oor ‘n spoedhobbel.
Die ontvoering het Dinsdagmiddag plaasgevind toe die gewapende man ‘n skoolbus vol kinders in Midland City voorgekeer het.
Wally Olson, polisiehoof van die dorp van 300 mense, sê die man het die busbestuurder geskiet toe hy geweier het om ‘n kind op die bus aan hom te oorhandig. Die skieter het gevolglik die seun geneem.
“So ver ons weet is daar geen verbintenis nie. Hy wou net ‘n kind hê om gyselaar te neem,” het Michael Senn, ‘n pastoor, gesê.
Die busbestuurder, Charles Albert Poland Jnr (66) is deur die plaaslike inwoners as ‘n held beskryf wat sy lewe gegee het om 21 kinders te beskerm.
Beamptes het geen besonderhede gegee oor of Dykes enige eise vanuit sy ondergrondse skuiling gemaak het nie.
Die polisiehoof het Woensdagaand in ‘n kort verklaring gesê onderhandelaars gaan voort om met die verdagte te praat.
“Ons het in hierdie stadium geen rede om te dink die kind is beseer nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP