Omstrede televisieprogram vang pedofiele
2010-10-20 04:35
Berlyn – ‘n Duitse televisieprogram, wat daarin poog om pedofiele uit te lok en dan vas te trek, het streng kritiek ontvang nadat een van die verdagtes verdwyn het.
Die program, Scene of the Crime: Internet -- Protecting Our Children, word deur ‘n prominente politieke figuur se vrou aangebied.
Dié program is glo soortgelyk aan ‘n Amerikaanse program wat van die lug afgehaal is nadat ‘n vermeende pedofiel in 2007 in Texas selfmoord gepleeg het.
Op die Duitse program doen ‘n vrou haarself voor as ‘n minderjarige en lok sy pedofiele uit in internet-kletskamers. Wanneer die verdagte dan die 13-jarige ontmoet, word ‘n jong aktrise gebruik en begin die kameras rol.
Die verdagtes, wie se gesigte en stemme vermom word, word dan deur ‘n joernalis gekonfronteer en die saak aan die polisie oorhandig.
‘n 61-jarige verdagte, wat met kinders werk, is glo deur sy kollegas uitgeken nadat die episode uitgesaai is. Hy het daarna op die vlug geslaan en is steeds vermis.
Die Duitse minister van justisie, Sabine Leutheusser-Schnarrenberger, het Dinsdag sterk kritiek uitgespreek teenoor die program en die vervaardigers daarvan beskuldig dat hul uit is op ‘n “heksejag”.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA