Omstrede predikant verander van plan
2010-09-09 23:26
Gainesville - Die pastoor van Florida wat honderde kopieë van die Koran wou verbrand, het van sy planne afgesien en gesê Moslemleiers het beloof om ‘n moskee wat naby die Ground Zero-gebied in New York sou oopmaak, te verskuif.
“Die Amerikaanse mense wil nie die moskee daar hê nie, en natuurlik wil Moslems nie hê ons moet die Koran verbrand nie,” het Terry Jones, hoof van die Dove World Outreach Center, by ‘n mediakonferensie gesê.
“Die imam het ingestem om die moskee te skuif. Ons het ingestem om ons seremonie vir Saterdag te kanselleer, en ek sal Saterdag vlieg om hom te ontmoet.”
Jones, pastoor van die klein kerk met ongeveer 50 lede, het beplan om die Korans te verbrand op Saterdag se negende herdenking van die 9/11-aanvalle in 2001, om die 3 000 mense wat in dié Al Kaïda-aanval dood is, te eer.
Die seremonie is wêreldwyd veroordeel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP