Olike Hillary Clinton se vlerkies geknip
2012-12-20 11:18
Washington – Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se vlerkies is weens olikheid geknip en sy sal weke lank nie kan reis nie, het 'n beampte gesê.
"Gegewe haar toestand, het die minister se dokters haar geraadpleeg om vir 'n ruk lank nie te vlieg nie," het Philippe Reines, ’n Clinton-helper, gesê.
Die nuus is 'n slag vir Clinton wat reeds 112 lande besoek het en 400 dae in 'n vliegtuig deurgebring het.
Die 65-jarige Clinton is al sedert vroeg Desember siek nadat sy tydens 'n vyfdaagse besoek aan Europa 'n maagvirus opgedoen het. Sy moes weens dié virus 'n beplande reis na Noord-Afrika en Abu Dhabi kanselleer.
Haar dokters het die afgelope naweek gesê sy is erg gedehidreer weens die virus. Sy het flou geword en harsingskudding opgedoen.
Die dokters het haar aangeraai om vir 'n tweede week tuis te rus.
Victoria Nuland, woordvoerder van die Amerikaanse staatsdepartement, het Dinsdag ontken dat Clinton voorgee om siek te wees omdat sy nie voor Amerikaanse wetmakers te getuig nie.
Clinton sal na verwagting in 2013 uittree en 'n plaasvervanger sal binnekort aangewys word. Sen. John Kerry is glo die gunsteling-kandidaat vir die pos.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP