Olieramp tref Nieu-Seeland
2011-10-12 09:05
Tauranga (Nieu-Seeland). – ’n Onstuimige see het hier ’n vragskip verinneweer wat naby die kus op ’n rif vasgevang is en sy olielek vyfvoudig vererger. Dit is die ergste maritieme omgewingsramp in Nieu-Seeland, het die regering gesê.
Klonte olie van die Rena, wat onder die Liberiese vlag vaar, het op ongerepte strande naby Tauranga op North Island uitgespoel. Natuurbewaarders het gesê 53 dooie voëls is gevind en 17 ontvang noodbehandeling om olie uit hul vere te verwyder.
“Hierdie gebeurtenis het vererger tot die ergste omgewingsramp ter see in Nieu-Seeland,” het die minister van omgewingsake, Nick Smith, gesê en bygevoeg die opruiming sal weke lank duur.
Die skip het vergaan nadat dit op 5 Oktober op die Astrolaberif sowat 22 km van die Tauranga-hawe gestrand het. Die regering het redes geëis waarom die skip in kalm weer in bekende vaarwater op die rif gestrand het. Die eienaar van die skip het geen rede verstrek nie, maar sê hy werk saam met die owerhede.
Onstuimige weer het die afgelope paar dae bergingspanne weggehou. Eergisteraand het die reuseskip geskuif en honderde tonne olie is gestort.
Dinsdag is nog 350 ton olie gestort en amptenare glo die skip het 1 700 ton olie aan boord gehad voordat dit begin lek het. ’n Bergingspan moes gister weens hoë deinings van die skip verwyder word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP