Olieramp dreig op VSA-kus
2010-04-30 11:46
Mississippi - Die massiewe lek in 'n olieboor in die Golf van Mexiko begin die kus van Louisiana nader en kan die VSA se ergste omgewingsramp in dekades veroorsaak.
Die lek bring een van die wêreld se rykste bronne van seekos in gevaar.
Die lek in die Deepwater Horizon olieboor, wat verlede week na ‘n reuse ontploffing gesink het, is vyf keer groter as wat aanvanklik aangeneem is.
'n Olierige glans was Donderdag sigbaar op die Mississippi-rivier, die VSA se grootste rivier, en die kus van Louisiana.
Dikker olie was slegs 8km van die kus af te sien.
Die olieramp bedreig honderde vis- en voëlspesies en ander natuurlewe.
Die area is een van die wêreld se rykste seekosbronne.
Die olieboor lek sowat 800 000 liter olie per dag.
- AP
Volg Nuus24 op Twitter.