Obama swem vir gemoedsrus in Golf van Meksiko
2010-08-15 12:57
Florida - VSA-president Barack Obama en sy dogter het in die Golf Van Meksiko gaan swem in 'n poging om Amerikaners gerus te stel dat die water veilig is vir toeriste, ten spyte van die olieramp wat die gebied getref het.
Obama het Amerikaners aangemoedig om steeds vakansie in dié
streek te hou. Die gebied is ekonomies afhanklik van toerisme.
Dit volg nadat die energiereus BP se boorgat, wat olie in die Golf van Meksiko gelek het, uiteindelik toegestop is.
"Olie vloei nie meer in die Golf in nie," het Obama gesê. "Maar ek is hier om vir julle te vertel dat ons werk nog nie klaar is nie, en ons gaan nêrens heen voordat dit is nie."
Obama het BP beveel om die proses van vergoeding, vir mense wat deur die ramp geraak is, te bespoedig.
- SAPA