Obama sal wet teken wat gay soldate toelaat
2010-12-19 10:02
Washington - Die Amerikaanse senaat het ingestem om afstand te doen van
'n beleid wat troepe 17 jaar lank verbied het om openlik gay te wees.
Daar word verwag dat president Barack Obama die wetsontwerp
hierdie week sal onderteken. Dit sal waarskynlik 'n paar maande neem vir die
wet om bekragtig te word. Die president en sy top militêre adviseurs moet eers
verseker dat die nuwe wetgewing nie troepe se vermoë om te veg sal benadeel
nie. Daarna sal die weermag 'n wagperiode van 60 dae hê.
Die nuwe wet sal meebring dat soldate vir die eerste keer in
die geskiedenis van die VSA hul seksuele oriëntasie bekend sal kan maak, sonder
om te vrees dat hulle uitgeskop sal word.
Meer as 13 500 lede is onder die 1993-wet, wat soldate gedwing
het om hul seksuele oriëntasie weg te steek, uit die weermag ontslaan.
"Dit is tyd om hierdie hoofstuk in ons geskiendenis te
beëindig," het Obama in 'n verklaring gesê. "Dit is tyd om te erken
dat opoffering, dapperheid en integriteit net so min deur seksuele oriëntasie
bepaal word as deur ras, geslag, godsdiens of oortuigings."
- SAPA