Obama op gholfbaan toe skudding plaasvind
2011-08-24 09:04
West Tisbury – Pres. Barack Obama was besig om gholf te speel by ‘n gholfbaan op die eiland Martha's Vineyard in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts toe die grond rondom hom begin skud het, het AP Woensdag berig.
Verslaggewers wat saam met die Amerikaanse president gereis het, het gesê hulle het onmiddellik die aardbewing gevoel wat die VSA se ooskus getref het.
Volgens Josh Earnest, woordvoerder vir die Withuis, het Obama nie die impak van die aardbewing gevoel nie. Skuddings is egter in ander dele van die eiland gevoel toe geboue geskud het, het die nuusagentskap AFP berig.
Die aardbewing het groot dele van Washington, D.C. geskud waar dele van die Withuis, Pentagon en Capitol tydelik ontruim is.
CNN het ‘n video van Obama uitgesaai waar die president op die gholfbaan op Martha's Vineyard ‘n oproep maak.
Die nuusagentskap AFP berig hy het met ‘n top-rampbestuurder gepraat ná die aardbewing plaasgevind het.
Die president en sy familie is tans met vakansie. Hy sal na verwagting Saterdag na die Withuis terugkeer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24