Obama het Britte aan sy voete
2011-05-29 07:00
Johannesburg - Die Amerikaanse president, Barack Obama, het Britse politici die afgelope week laat jubel en swymel van ekstase.
Nie net is die verhouding tussen Amerika en Brittanje “spesiaal” nie, dit is noodsaaklik, het hy sy gashere probeer oortuig op sy staatsbesoek.
As daar een ding is waaroor die Britte meer wroeg as die weer, is dit hul verhouding met Amerika. Soos ’n jaloerse en effens onseker minnaar ontleed die Britse politici, media en kommentators elke teken van toenadering of afjak van oor die oseaan.
Soms (soos ná die woede oor Tony Blair en George W. Bush se oorlog in Irak) probeer hulle hul distansieer van Amerika.
Maar nie die Britse premier, David Cameron, nie. Cameron wil hom vestig as wêreldleier en dáárvoor het hy die steun – en glans – van Obama nodig.
Dit was dus met angs dat die Britte moes toekyk hoe Obama die begin van die week die ideale fotogeleentheid, waarskynlik een van die blywendste van sy presidentstermyn, in die klein dorpie Moneygall in Ierland vind.
Spitsvondig (noem my O’Bama) en met ’n Guinness in die kroeg het die Amerikaanse president hulde gebring aan sy Ierse oer-oupagrootjie en gevry na die Amerikaanse kieserskorps van Ierse afkoms.
Stormsterkte wind in Ierland en as van die Yslandse Grimsvötn-vulkaan het Obama, saam met sy vrou, Michelle, en ’n toergroep van 1 500 van die Wit Huis, 12 uur vroeër as beplan in Londen se ope arms gedryf. Maar wat sou die Guinness kon oortref?
Die Britse koningshuis in al sy nuutgevonde glorie ná die troue verlede maand van prins William en Catherine het die nodige prag en praal verleen en die bruidspaar, pas terug van wittebrood, het die Amerikaanse presidentspaar verwelkom.
Met regstreekse beeldsending het ademlose uitsaaiers hul kommentaar voortgesit waar hulle momenteel opgehou het ná die troue: Catherine se rok is ’n treffer, hulle (beurtelings William en Catherine, Barack en Michelle, Obama en Cameron) is so ’n mooi paartjie, dié keer gaan die verhouding hou …
Weggevoer in sy koeëlvaste limousine (The Beast) deur Londen se strate moes Obama ook vir Cameron sy fotogeleentheid gee.
In hul dasse en wit kraaghemde, moue effens opgerol, het Obama en Cameron tafeltennis gespeel by ’n skool in die suide van Londen.
Só ingenome is die Britte met Obama dat hulle hom sy latere flater by die staatsbanket vergewe het. Hy het ’n heildronk op die koningin ingestel en, soos gebruiklik, het die orkes God Save the Queen begin speel.
Maar Obama het aangehou praat totdat koningin Elizabeth II hom ’n vermanende kyk gegee en hy agtergekom het hy lig alleen sy glas.
Sy volgende dubbels-poging met Cameron was meer geslaagd.
Weer eens in dasse en met die moue effens opgerol het hulle vleisbraaitang-in-die-hand en rook-in-die-oë in die tuin van 10 Downing Street burgers, wors en tjops gebraai vir Amerikaanse en Britse soldate.
Samantha Cameron en Michelle Obama het, soos vroue by soortgelyke geleenthede oor kontinente en deur eeue heen doen, die slaaibakke in fleurige rokke beman.
Obama se grootste triomf was sy amptelike rede – die eerste toespraak deur ’n Amerikaanse president aan albei huise van die parlement in Westminster.
Die vorige drie sprekers, het Obama afgeskop, was die pous, die koningin en Nelson Mandela. En dít, het hy gesê, is “óf ’n baie hoë standaard óf die begin van ’n baie snaakse grap”.
Met Westminster in vervoering, het Obama hulle verseker die Anglo-Amerikaanse verhouding “is een van die wêreld se sterkstes nóg” en dat dit gegrond is op ’n gedeelde taal en geskiedenis, en gedeelde waardes en oortuigings.
Daar was geringe verskille in die twee lande se benaderings tot Libië, Israel en maatreëls om die begrotingstekort te hanteer, maar in Westminster het niemand meer omgegee nie.
- Rapport