Obama-gesondheidsplan kry 'n hou
2010-01-20 11:09
Massachusetts – Die Republikeine het Dinsdag ‘n uitmuntende oorwinning ingepalm tydens die senaatsverkiesing in Massachusetts.
Hierdie sukses kan moontlik ‘n negatiewe impak hê op die Amerikaanse president Barack Obama se planne om dié land se gesondheidsorg te hervorm.
Die Republikein Scott Brown het ‘n verrassende oorwinning gehad en die Demokratiese ikoon, Edward Kennedy, se plek ingeneem.
Nadat byna al die stemme getel is, het Brown met 52% voorgeloop teenoor sy Demokratiese teenstander, Martha Coakley.
“Vanaand het die onafhanklike stem van Massachusetts gepraat,” het Brown in sy oorwinningstoespraak gesê.
Coakley het glo gesê sy is “hartseer” oor die resultate.
Die Demokrate sal steeds in die meerderheid wees wanneer Brown sy plek in die senaat inneem, maar hulle het die belangrike 60ste stem verloor. Dit het tot gevolg dat die Republikeine nou meer invloed op die Withuis se agenda kan uitoefen.
Kundiges meen die eerste slagoffer sal Obama se hervorming van die land se gesondheidsorg wees, wat selfs onder die Demokrate nie ‘n meerderheid stemme kon werf nie.
Brown, wat die 41ste Republikein in die Amerikaanse senaat sal wees, het beloof om teen die gesondheidsorg-wetsontwerp te stem.
“Ek dink dit is veilig om te sê dat gesondheidsorg nou dood is,” het Anthony Weiner, ‘n Demokratiese lid van Amerikaanse kongres, gesê.
- Sapa