Obama gee R10 milj van Nobel-vredesprys weg
2010-03-12 10:13
Washington - President Barack Obama beplan om $1.4 miljoen (R10.3 miljoen) van sy Nobel-vredesprysgeld aan studente, die families van veterane en oorlewendes van die aardbewing in Haïti te skenk.
Obama gaan onder andere ‘n totaal van $750,000 (R5 miljoen) aan ses groepe gee wat kinders help om skool toe te gaan.
Fisher House, wat behuising aan families met geliefdes by die Veterans Administration-hospitale het, sal ‘n bedrag van $250,000 (R1.8 miljoen) ontvang, het die Withuis gesê.
Die Clinton-Bush Haïti-fonds, wat deur die twee voormalige presidente gestig is om geld vir Haïti se herontwikkeling in te samel, sal $200 000 (R1.4 miljoen) ontvang.
“Dié organisasies doen ongelooflike werk in Amerika en oorsee om kinders, veterane en ontelbare behoeftiges te help,” het Obama in sy verklaring gesê.
“Ek is trots om tot hulle harde werk by te dra.”
- Sapa-AFP