Obama fel gekritiseer deur betogers
2010-03-21 07:33
Washington – Duisende betogers het deur Washington marsjeer en daarop aangedring dat die regering Amerikaanse troepe in Irak en Afganistan onttrek.
Die betogers se woede was meestal op Pres. Barack Obama gerig.
Ten minste agt mense is na die afloop van die betoging in hegtenis geneem.
“Arresteer daai krimineel!”, het Cindy Sheehan, ‘n aktivis wat deelgeneem het aan die mars, geskree.
Sy is een van die agt mense wat in hegtenis geneem is.
Sheehan het tydens ‘n sametrek voor die mars aan die skare gevra of die “wittebrood nou verby is vir daai oorlogmisdadiger in die Withuis”.
Haar uitlating het matige applous uitgelok.
Ander betogers was effens meer goedgesind teenoor die president.
“Ons is lief vir jou Obama, maar jy kry bloed op jou hande”, was op een betoger se plakaat geskryf.
Ralph Nader, ook ‘n aktivis, het aan die skare gesê dat Obama basies die Bush administrasie voortsit en dat enige ander siening naïf is.
– Sapa