Obama eis laer lone vir grootbase
2009-10-22 13:14
Washington - President Barack Obama gaan salarisverlagings van tot 90% van die grootbase van maatskappye eis, wat aansienlike hulp van die regering ontvang het.
Sewe maatskappye wat die meeste hulp ontvang het, toe die VSA se finansiële krisis op sy hoogste was, sal vereis word om die salarisse van 25 van hul hoogsbetaalde base te sny.
Dié salarisverlagings volg na wêreldwye ontevredenheid oor die reuse bonusse wat aan werknemers van maatskappye wat finansiële hulp van die regering ontvang het, uitbetaal is.
Die Washington Post berig dat onder die voorbeelde wat gebruik is om die gemiddelde salarisverlaging te bereken, 'n geval is waar die maatskappy, Citigroup een van sy handelaars, Andrew Hall ‘n $100 miljoen (R743 miljoen) bonus wou gee.
- SAPA