Obama bespreek helikopterramp wat 38 eis
2011-08-08 11:16
Washington - President Barack Obama het Sondag met die top Amerikaanse kommandeurs gepraat oor die soldate wat dood is toe ‘n militêre helikopter in Afganistan afgeskiet is.
Dertig Amerikaanse soldate, sewe Afgane en ‘n tolk is Vrydagaand in die voorval in Afganistan dood, slegs twee weke voor buitelandse troepe beheer oor die sekerheidsituasie in dié land aan Afgaanse magte sal oorgee.
Obama het volgens die Afgaanse ambassade in Washington ook met die Afgaanse president Hamid Karzai oor die voorval gepraat.
Volgens die Withuis het Obama oproepe na die kommandeurs gemaak om sy medelye uit te spreek vir die soldate wat in die voorval dood is. Hy het in die oproep die Amerikaanse mense se steun vir die troepe in Afganistan, asook hul families, benadruk.
Navo het intussen probeer vasstel of Taliban-lede vir die grootste lewensverlies in ‘n enkele voorval in die afgelope tien jaar se oorlogvoering, verantwoordelik is.
Die Taliban het erken hulle het die helikopter met ‘n vuurpyl-aangedrewe granaat afgeskiet. Hoewel hulle bekend is daarvoor om hul betrokkenheid by sulke voorvalle te oordryf, het ‘n beampte in Washington gesê hulle glo wel die helikopter is deur die Taliban afgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP