Obama gereed vir verkiesingsveldtog
2012-01-03 17:02
Washington – Pres. Barack Obama van Amerika is terug op kantoor ná 'n tien dae lange vakansie in Hawaii en is gereed om sy pos te verdedig wanneer Amerikaanse burgers later vanjaar weer kies wie dié land vir die volgende vier jaar sal lei.
Obama stel hom beskikbaar vir herverkiesing as president in November.
Die president sal onder andere Dinsdagaand die gasheer wees van ‘n regstreekse web-gesprek met ondersteuners in Iowa, wat deel vorm van sy verkiesingsveldtog. Hy gaan ook Woensdag ‘n besoek aan Ohio aflê, wat moontlik van deurslaggewende belang in die verkiesing kan wees.
Obama sal op 24 Januarie sy staatsrede lewer, waartydens hy ‘n toekomsvisie sal voorlê wat sal dien as die basis van sy veldtogboodskap.
Obama se strategie vir sy vierde diensjaar as president sal na verwagting grootliks fokus op planne wat uitgevoer kan word sonder dat dit deur wetgewers goedgekeur word. Hy doen dit in ‘n poging om weg te breek van die ongewilde kongres.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP