Nuwe teorie oor Madeleine se verdwyning
2011-02-27 08:20
Johannesburg - Dis reeds vier jaar sedert klein Madeleine McCann in 2007 in Algarve, Portugal, verdwyn het terwyl sy op vakansie saam met haar ouers was.
Sedertdien is selfs haar ouers al daarvan beskuldig dat hulle by haar verdwyning betrokke was, maar geen spoor van die dogtertjie (vier jaar oud toe sy laas gesien is) kon nog gevind word nie.
Die jongste bewerings wat pas in die Britse poniekoerant The Sun gepubliseer is, wil dit hê dat Madeleine dalk deur ’n internasionale sindikaat pedofiele ontvoer is en nou in die VSA kan wees.
The Sun berig ’n amateurspeurder, Marcelino Italiano, het ’n dossier aan die Spaanse polisie oorhandig waarin hy sy teorie uiteensit en waarin twee Portugese sakemanne betrek word.
Madeleine se ouers, Kate en Gerry McCann, het hul dankbaarheid uitgespreek dat hy die inligting ingesamel het.
- Rapport