Nuwe hoop vir klimaatsberaad
2009-09-23 04:09
New York - Ban Ki-moon, die Verenigde Nasies (VN) se sekretaris-generaal, sê wêreldleiers het hulle gewilligheid getoon om die inperking van gifgasse, wat aardverhitting bespoedig, in plek te stel, maar sekere industriële-nasies dra nog nie genoeg by nie.
Die VN-beraad, wat Dinsdag in New York gehou is, het volgens Ki-moon wêreldleiers se aandrang op die saak getoon.
“Daar is hoop dat ‘n ooreenkoms by die Kopenhagen-klimaatsberaad in Desember vanjaar, bereik sal word,” het hy gesê.
Ontwikkelende lande het ook hulle betrokkenheid getoon.
“Meeste lande het die doelwit, om aardverhitting van 2°C te voorkom, aanvaar, maar presiese teikens vir die vermindering van kweekhuisgasse moet nog vir elke land vasgestel word,” het Ki-moon gesê.
Volgens Ki-moon het sommige industriële-lande onvoldoende doelwitte vir hulself gestel en moet hierdie lande ooreenstem om hulle uitlaatgasse met minstens 25% tot 40% te verminder.
“Daar was ‘n soort optimisme, dringendheid en hoop dat die ooreenkoms in Kopenhagen vasgemaak sal word,” het hy gesê.
- Sapa