Nuwe era wink as VSA erg besnoei
2012-01-07 08:27
Den Haag – Amerika staan aan die vooraand van ’n omvattende strategiese koersverandering.
Pres. Barack Obama se aankondiging vandeesweek oor drastiese militêre besnoeiings beteken dat Amerika se rol in die wêreld aansienlik gaan verander.
Die planne staan op drie pilare.
Ten eerste moet die Amerikaanse weermag oor die volgende dekade minstens $487 miljard (byna R4 000 miljard) – dalk meer – besnoei.
Dit beteken dat die huidige troepemag van 570 000 tot 490 000 verminder moet word.
Ten tweede beteken dit dat Amerika moet afsien van sy veiligheidstrategie, wat sedert die eeuwisseling geld, dat hy in staat moet wees om twee middelgroot oorloë tegelyk op verskillende plekke in die wêreld te veg.
Destyds het die beplanners veral Irak en Noord-Korea in gedagte gehad, maar dit het toe Irak en Afganistan geword.
Die laaste Amerikaanse troepe het Irak ’n paar weke gelede verlaat en Obama is voornemens om ook die oorlog in Afganistan geleidelik tot ’n einde te bring.
Dié magsvermindering het ’n derde implikasie.
Die historiese Amerikaanse militêre fokus op Europa (wat ná die Koue Oorlog nog ’n sekere momentum behou het) en die Midde-Ooste (wat ná 9/11 sterk toegeneem het), gaan plek maak vir ’n nuwe fokus: China.
Dat Obama die militêre aanslag teen die Gaddafi-regime grootliks aan Europa oorgelaat het, was ’n voorbode hiervan.
In Amerika word China as die volgende groot mededinger gesien.
Die Chinese bestee miljarde om hul weermag meer vaartbelyn te maak en sy slaankrag te verhoog.
Onder meer word die vloot versterk met dosyne nuwe fregatte en duikbote en verskeie vliegdekskepe word beplan.
Die Amerikaners weet dit gaan nog lank duur voordat die Chinese weermag in staat sal wees om hul eie weermag die loef af te steek.
Dus wil hulle vroegtydig begin om vir dié bedreiging, soos hulle dit sien, voor te berei.
Daarom moet hulle seker nou miljarde besnoei.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld