Nutsman sit lewenslank vir moord
2009-10-21 10:05
Chicago – ‘n Juriebank in Illinois het Dinsdag ‘n voormalige nutsman tot lewenslange tronkstraf gevonnis, in stede daarvan om hom tot die dood te veroordeel vir 'n 1993-moordslagting van sewe mense by ‘n restaurant.
Die juriebank het James Degorski (37) verlede maand skuldig bevind vir die gru-moord van sewe mense by die Brown’s Chicken and Pasta restaurant in Chicago.
Hulle het ‘n maand gelede die doodstraf as ‘n gepaste vonnis vir Degorski gesien.
Maar hulle het toe besluit op lewenslange tronkstraf nadat twee jurielede teen die doodstraf gestem het.
Die finale stemtelling was 10-2 vir die doodstraf, het Cynthia Rathburn, die woordvoerder van die juriebank aan verslaggewers gesê.
Degorski se ma, Patricia Degorski was baie verlig oor die uitspraak.
Die restaurant se eienaars en vyf werknemers is geskiet en met ‘n mes aangeval.
Hulle lyke is daarna in ‘n vrieskas gebêre voordat die restaurant van $2000 beroof is.
Die moord het sowat 10 jaar lank by die dorp se inwoners gespook voordat Degorski se voormalige meisie met die waarheid na vore gekom het.
Gedurende die verhoor het getuies en Degorski se ma die lede van die jurie vertel van sy gewelddadige agtergrond.
Degorski se pa het sy kinders glo seksueel gemolesteer en hulle verskeie kere teen die bed vasgemaak om hulle te slaan.
Degorski het egter geen emosie teenoor sy slagoffers getoon nie, het Tom Biestly, staatsaanklaer van Illinois gesê.
- Sapa-AP