Noorweë kry nuwe polisiehoof
2012-08-17 22:56
Oslo – Noorweë het ‘n nuwe polisiehoof aangestel nadat die vorige polisiekommissaris bedank het as gevolg van ‘n verslag wat hom gekritiseer het oor hoe hy verlede jaar se aanvalle deur Anders Behring Breivik gehanteer het.
Odd Reidar Humlegaard, wat tans hoof van die misdaadbedrywighede is, sal Maandag die leisels oorneem.
Sy aanstelling kom enkele dae nadat ‘n onafhanklike kommissie, wat die land se premier, Jens Stoltenberg, aangestel het, ‘n verslag saamgestel het.
Die verslag het die polisie se stadige en ongeorganiseerde reaksie teenoor die aanvalle gekritiseer.
Humlegaard se voorganger, Oeystein Maeland, het Donderdagaand – drie dae nadat die verslag uitgereik is – bedank. Maeland het slegs enkele dae voor die aanvalle op 22 Julie verlede jaar as polisiehoof oorgeneem.
'n Onafhanklike verslag het bevind dat die bomontploffing verhoed kon word.
Breivik (33) het skuld erken in verband met die dood van 77 mense op 22 Julie verlede jaar.
Sy verhoor, wat tien weke lank geduur het, is in Junie afgehandel en uitspraak in die saak word op 24 Augustus verwag.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP