Noord-Korea soek vrede met VSA
2010-01-01 14:54
Seoel – Noord-Korea het Vrydag die hoop uitgespreek op die beëindiging van vyandigheid met die VSA, en beloof om hom te beywer vir 'n peninsula vry van kernwapens – dít skaars sewe maande ná sy laaste kerntoetse die wêreldgemeenskap ontstel het.
Dié oproep is gemaak in 'n gesamentlike Nuwejaarsboodskap in dié kommunistiese land se staatskoerante.
Daar word van Noord-Koreaanse burgers verwag om dié boodskap te memoriseer, aangesien dit beskou word as 'n ideologiese rigtingwyser wat burgers in die volgende jaar moet lei.
"Die beste manier om vrede en stabiliteit op die Koreaanse peninsula en in die res van Asië te bewerkstellig is om 'n einde te bring aan die vyandige verhouding tussen Noord-Korea en die VSA," het die boodskap gelui.
"Noord-Korea stel hom ten doel om 'n langdurige vredesstelsel op die Koreaanse peninsula tot stand te bring, en om dit vry van kernwapens te maak deur middel van dialoog en onderhandelings," het die boodskap volgens Pyongyang se Korean Central News Agency (KCNA) gesê.
Noord-Korea het hom in April verlede jaar onttrek aan veelparty-samesprekings oor dié onderwerp in protes teen die internasionale reaksie oor dié land se lansering van 'n langafstand-vuurpyl. Noord-Korea het in Mei 2009 sy tweede kerntoets gedoen sedert 2006.
– Sapa-AFP