Noord-Korea, VSA rook vredespyp
2009-12-11 10:11
Seoel - Noord-Korea se ministerie van buitelandse sake sê hy sal saam met die VSA werk om hul "verskille" uit te stryk.
Hy het ook gesê hy verstaan die aanvraag om gesprekke oor die sesnasie-kernontwapening te hervat.
Noord-Korea het vroeër vanjaar van dié gesprekke weggestap en gesê hy sal nie terugkeer tensy hy sy tweede kerntoets gedoen het nie.
Dít was Noord-Korea se eerste reaksie op drie dae se gesprekke met Stephen Bosworth, spesiale gesant vir Noord-Koreaanse beleid.
Bosworth het Donderdag gesê die twee lande het 'n "gesamentlike ooreenkoms" bereik oor die aanvraag om gesprekke oor kernontwapening te hervat.
Die VSA was in onderhandelings met die twee Koreas, China, Japan en Rusland betrokke wat daarop gemik is om Noord-Korea se kernprogram te skrap in ruil vir hulp. Die gesprek is gevoer ingevolge ’n baken-ooreenkoms tussen die ses lande wat in 2007 gesluit is.
Die onderhandelings het einde verlede jaar ’n dooie punt bereik weens ’n twis met Noord-Korea oor hoe om ontwapening te verifieer, voordat sake skerp agteruitgegaan het as gevolg van Noord-Korea se lansering op 5 April van ’n langafstand-vuurpyl.
– AP