Noodtoestand in Nieu-Seeland verleng
2010-09-06 14:00
Christchurch, Nieu-Seeland - Die weermag het beheer oorgeneem in die middestad van Christchurch in Nieu-Seeland, twee dae na 'n kragtige aardbewing grootskaalse skade aangerig het.
Geboue en huise is platgevee, paaie en spoorlyne is beskadig, maar geen lewensverlies is aangemeld nie.
Die burgemeester, Bob Parker het die noodtoestand vir nog twee dae verleng.
Die weermag help die polisie om beskadigde besighede en winkels in die middestad te beveilig.
Dié deel van die stad bly afgesper met slegs eienaars van geboue en ondernemings wat toegelaat word. Minstens 500 geboue is verwoes.
– RSG