Nóg storms teister VSA
2011-05-26 07:02
Joplin - Terwyl daar nog na oorlewendes van een van die sterkste tornado’s op rekord gesoek word, het ’n nuwe storm Woensdag nóg vernietigende tornado’s in buurstate ontketen.
Vier mense is dood in ’n reeks tornado’s Dinsdagaand laat in ’n plattelandse distrik in Oklahoma en nog 60 is elders beseer.
Inwoners het gesê dié tornado het die hoofstad rakelings gemis.
Die stormweer het ook oor die noorde van Texas, asook Kansas gestrek, waar nog twee mense gesterf het, het dié staat se noodbestuuragentskap gesê.
’n Woordvoerder het gesê in Arkansas is nóg ’n mens dood toe ’n tornado daar deur ’n dorpie beweeg het.
Inwoners van Missouri was vreesbevange ná die nuutste storms. Werkers op die dorp Joplin soek nog na oorlewendes en inwoners het nog hul besittings uit die puin gegrawe toe die storm die dorp getref het.
Volgens die nasionale weerdiens het dit voorgekom of die vlaag storms teen Woensdag verbybeweeg het.
Die stadsbestuurder van Joplin, Mark Rohr, het gesê die soekproses na oorlewendes raak al hoe dringender. “Menselewens is op die spel,” het hy aan verslaggewers gesê.
Altesaam 17 mense is Maandag uit die puin gered, maar Dinsdag kon net twee mense nog lewend gevind word.
Intussen het die dodetal van die tornado wat Joplin Sondag getref het tot 123 gestyg.
Tot soveel as 1 500 mense word vermis. Daar word gehoop sommige van hulle het dit lewend gemaak tot buite die verwoeste gebied.
Die dorp se Facebook-blad het ’n forum geword vir nuus oor waar om gratis maaltye te kry en waar skuiling verskaf word.
- Volksblad