Nóg sterftes toe geweld in Jemen weer opvlam
2011-11-05 18:05
Kaïro – Twee burgerlikes is Saterdag dood in hernude geweld in Jemen wat deur die opposisie op magte lojaal aan pres. Ali Abdullah Saleh blameer word.
'n 10 jaar oue kind is dood en vyf ander mense beseer in bomaanvalle deur pro-Saleh-magte op woongebiede in die suidelike stad Taiz, het opposisie-bronne gesê.
Die aanvalle het glo in die nag begin en tot Saterdagmiddag voortgeduur.
Talle woedende betogers het Saterdag die strate ingevaar om teen die aanvalle protes aan te teken, wat 'n dag voor Eid al-Adha, een van die heiligste periodes op die Islamitiese kalender, uitgevoer is.
Taiz is 'n middelpunt van die protesaksie teen Saleh sedert geweld in Februarie in Jemen uitgebreek het.
'n Mediese student is ook naby 'n beheerpunt in die hoofstad Sanaa doodgeskiet. Die opposisie beweer regeringsoldate wat die presidensiële paleis bewaak het op die student se motor geskiet.
Intussen het Jemeense owerhede teenregeringsbetogers daarvan beskuldig dat hulle geboue in die stad Ra'da, ongeveer 260 km oos van die hoofstad Sana'a, opsetlik beskadig het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA