Nóg 'skrikwekkende' aardbewings tref NS
2011-12-23 09:40
Christchurch – Die nuutste kragtige aardbewings wat die stad Christchurch in Nieu-Seeland getref het, is “skrikwekkend en ontmoedigend” vir die beleërde inwoners, het John Key, eerste minister, Vrydag gesê.
Key het gesê die regering se voorneme om Christchurch te herbou bly onveranderd, ondanks seismoloë se voorspellings dat skuddings nog vir ‘n lang tyd sal voorkom.
Twee aardbewings van 5.8 en nog ‘n reeks sterk naskokke het die stad Vrydag getref. Mense het die strate in gevlug, die internasionale lughawe is gesluit en kommunikasie is onderbreek.
Dié skuddings is die nuutste in ‘n reeks skuddings wat sowat 15 maande gelede begin en ‘n groot deel van die middestad verwoes het. Die mees dodelike skudding het in Februarie 181 mense dood gelaat.
“Dit sal skrikwekkend en ontmoedigend wees vir die mense van Christchurch en Canterbury om nóg sulke sterk aardbewings te beleef, veral so naby aan die vakansieseisoen,” het Key gesê.
“My hart gaan uit aan die mense van Christchurch en Canterbury in hierdie tyd,” het hy gesê.
Skade van tot NS$20 miljard (sowat R128 miljard) is reeds deur die skuddings aan Nieu-Seeland se tweede grootste stad aangerig.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP