Nóg ‘n sterk naskok vir Christchurch
2010-09-08 00:32
Christchurch - Die Nieu-Seelandse stad Christchurch is Woensdag deur sy mees verwoestende naskok sedert Saterdag se 7.0-aardbewing getref, wat volgens inwoners en beamptes verdere skade aangerig het.
Die naskok van 5.1 het kort voor 08:00 Woensdag getref en het vreesbevange inwoners die strate in laat skarrel. Kragtoevoer, wat reeds broos is, is afgesny en los materiaal van beskadigde geboue het neergestort.
Die naskok, wat die mees onlangse in ‘n reeks is, was ‘n vlak ses kilometer diep en heelwat nader aan die middestad as Saterdag se aardbewing, het die amptelike geologiese moniteringsdiens Geonet gesê. Saterdag se aardbewing het miljarde dollars se skade aangerig.
Christchurch se burgemeester, Bob Parker, het gesê dié mees onlangse naskok het heelwat reddingswerkers tot trane gebring.
“Dit was ‘n verwoestende, skerp slag vir die stad,” het hy aan NewstalkZB gesê.
“Dit was ‘n vreesaanjaende oomblik. Ons moes pas ons Burgerverdedigingshoofkantoor ontruim.”
“Ons het baie personeel wat in trane is, ons het brandweerwaens wat deur die middel van die stad jaag, die krag is af en heelwat mense is baie opgeklits daaroor.”
“Ek is al weer van voor af vreesbevange,” het ‘n inwoner, Colleen Simpson, aan die Stuff-webtuiste gesê.
Die woordvoerder van Christchurch se stadsraad, Diane Keenan, het gesê: “Die skudding was absoluut enorm. ‘n Regtige groot, stywe skudding. En dit was vertikaal, eerder as die kant-tot-kant-aard van die eerste een. As jy in ‘n motor was, het die pad op en af beweeg.”
Die mees onlangse skudding het gekom soos personeel op pad werk toe was by die enkele winkels en ondernemings in die middestad wat hierdie week kon heropen. Hulle is egter onmiddellik aangesê om die gebied te verlaat.
Parker het gesê: “Ons begin nou weer dink, dalk, net dalk, is die ergste hiervan verby.”
Meer as 100 naskokke het die gebied sedert Saterdag geruk.
- Sapa - AFP