Nóg 'n reuse-lughawe in Beijing beplan
2013-01-14 09:31
Beijing – Chinese leiers het die finale goedkeuring gegee vir ‘n nuwe internasionale lughawe in Beijing, wat sowat $11,2 miljard (R97,6 miljard) sal kos, het die staatsmedia Maandag berig.
Dié lughawe sal help om erge opeenhopings by die bestaande lughawe te verlig.
Die staatsbeheerde China Daily-koerant het berig oor die besluit, wat Sondag geneem is.
Die bestaande internasionale lughawe, wat vergroot is voor die 2008 Olimpiese Spele, is die wêreld se tweede besigste lughawe.
Die nuwe lughawe sal waarskynlik in die suide van die hoofstad gebou word, maar verdere besonderhede, insluitend die datum waarop bouwerk sal begin en die ontwerp van die gebou, word nog bespreek, het die China Daily berig.
CAAC News, 'n koerant wat nuus publiseer oor die land se lugvaartbedryf, het berig dat bouwerk volgende jaar kan afskop en dat die lughawe teen die einde van 2018 kan open.
Die koerant het ook berig dat die lughawe minstens 70 miljard yen (R97,6 miljard) kan kos, met ses aanloopbane vir burgerlugvaart en ‘n sewende een vir die weermag se gebruik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP