Nóg 'n Pakistanse politikus in Karachi doodgeskiet
2013-01-23 15:18
Karachi – ‘n Pakistanse politikus is in Karachi deur 'n groep gewapende mans doodgeskiet, het die polisie Woensdag gesê.
Dit is die tweede voorval van sy soort in 'n week.
Dié moorde lei tot vrese dat geweld die algemene verkiesings, wat hierdie jaar moet plaasvind, kan oorskadu.
Mian Taimur was ‘n leier in die suidelike provinsie Sindh vir die Pakistan Moslem Liga-N, die land se hoofopposisieparty, wat deur die voormalige premier, Nawaz Sharif, gelei word.
“Mian Taimur en sy pa is dood toe gewapende mans op motorfietse op hul voertuig losgebrand het,” het Imran Shaukat, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.
Die aanval het laat Dinsdag in die Defence-woonbuurt plaasgevind. Taimur was die party se adjunk-sekretaris in Sindh.
Nege ander mense is volgens die polisiewoordvoerder in die afgelope 24 uur in die stad doodgeskiet.
‘n Sekuriteitsbeampte het die dodetal bevestig en sê ‘n dokter was onder die slagoffers.
Manzar Imam, ‘n provinsiale wetgewer van die Muttahida Qaumi Beweging, wat ‘n koalisie-vennoot in die regering is, is verlede Donderdag saam met drie van sy wagte in Karachi doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP