Nòg ‘n Fritzl vasgetrek
2009-09-17 06:34
Melbourne – ‘n Australiese man is hegtenis geneem omdat hy na bewering sy dogter vir amper 30 jaar lank daagliks verkrag het en vier kinders by haar gehad.
Die man, wat nou in sy sestigs is, het sy dogter in die 1970’s begin mishandel toe sy slegs 11 jaar oud was.
Dié seksuele mishandeling het vir drie dekades lank aangehou, selfs nadat owerhede waarskuwings oor die man se gedrag ontvang het, het Melbourne se Herald Sun Donderdag berig.
Polisie het besluit om die man aan te kla nadat DNS-toetse getoon het hy is die pa van sy dogter se kinders.
Plaaslike media het die beweerde misdaad met dié van die berugte Oostenryker, Josef Fritzl, vergelyk.
Fritzl is vroeër vanjaar vasgetrek na hy sy dogter vir 24 jaar lank aangehou en verkrag het. Die Oostenryker is in Mei vanjaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die Herald Sun het berig dat die Australiese slagoffer se vier kinders almal met gebrekke gebore is. Een van hulle is later dood.
Die koerant sê die vrou het die mishandeling in 2005 by die polisie aangemeld, maar het daarna geweier om saam te werk uit vrees vir haar pa.
Die man se vrou sê sy het geen kennis van die mishandeling gedra nie.
Polisie in die staat van Victoria wou geen besonderhede oor die saak bekendmaak of bevestig nie.
- Sapa