Nog lyke gevind ná skeepsramp
2012-01-17 20:59
Giglio – Duikers het nog vyf lyke in die agterskip van die Costa Concordia-passasierskip gevind, het ‘n plaaslike regeringswoordvoerder Dinsdag aan die nuusagentskap dpa gesê.
“Vyf lyke is gevind, maar is nog nie uit die wrak gehaal nie,” het Cristiano Pellegrini, woordvoerder vir die Giglio-munisipaliteit, gesê. Die skip het Vrydagaand naby dié Italiaanse eiland gestrand.
Filippo Marini, ‘n woordvoerder vir die kuswag, het aan dpa gesê die slagoffers is glo een vrou en vier mans, waarskynlik tussen die ouderdomme van 50 en 60.
Die slagoffers het reddingsbaadjies aangehad, wat voorstel dat hulle passasiers was.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA