Nóg lyke gevind ná Algerië-gyseldrama
2013-01-20 14:44
Algiers – Die lyke van 25 gyselaars wat deur Islamiete gevange geneem is, is Sondag by 'n gasaanleg in die Algerynse Sahara-woestyn gevind, berig die plaaslike media.
Dít volg 'n dag nadat spesiale magte toegeslaan het die aanleg om 'n 72 uur lange geveg te beëindig.
Anis Rahmani, direkteur van die plaaslike televisie-kanaal Ennahar, het aan AFP gesê die weermag het "die lyke van 25 slagoffers gevind" toe hulle probeer het om die gebied te beveilig.
Geen ander inligting is bekend gemaak nie.
Mohamed Said, Algerië se minister van kommunikasie, het vroeër Sondag gesê die dodetal kan styg nadat Islamitiese militante 'n gasaanleg aangeval het.
Altesaam 23 buitelanders en Algeryne het reeds weens die aanval gesterf.
"Ek vrees dat die dodetal dalk opwaarts aangepas kan word," het Said aan 'n plaaslike radiostasie gesê.
Verskeie lande het intussen aangedui dat hul burgerlikes vermis word nadat die noodlottige aanval in die In Amenas-kompleks Saterdag in 'n bloedbad geëindig het toe Algerynse spesiale magte die aanleg bestorm het.
Die Algeryne het nog nie inligting verskaf van die buitelanders wat dood is nie.
Japan het gesê 10 van sy burgerlikes word nog vermis, sowel as vyf Nore en twee Maleisiërs.
Minstens een Algeryn is volgens amptelike bronne dood in die vier dag lange aanval.
Militante het Woensdag 'n aanval op die aanleg geloods en teen Donderdag is die meeste van die slagoffers vrygelaat toe die eerste reddingspoging uitgevoer is.
Wêreldleiers, wat gelei is deur pres. Barack Obama van Amerika en sy Franse eweknie, Francois Hollande, het die Islamitiese "terroriste" vir die sterftes blameer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP