Nóg bloedvergieting toe bomme Sentraal-Irak ruk
2011-11-26 14:05
Bagdad – Minstens 15 mense is dood en 18 beseer in 'n rits bomaanvalle in Sentraal-Irak Saterdag, het veiligheidsbeamptes en 'n dokter gesê.
In die eerste aanval is twee bomme aan weerskante van 'n pad vanuit Abu Ghraib, wes van Baghdad, geplant. Dit het afgegaan toe 'n vragmotor met konstruksiewerkers verby dit gery het, het lt. Omar Zawbai van die Abu Ghraib-polisie aan die nuusagentskap AFP gesê.
Dr Omar Delli van die Fallujah-hospitaal het gesê dié hospitaal het "sewe lyke en sewe gewondes ontvang", waarvan twee mense later dood is.
'n Amptenaar van die departement van binnelandse sake het gesê die dodetal het op agt te staan gekom, met 13 mense wat in die aanval in Abu Ghraib alleen beseer is.
Die amptenaar het ook gesê drie bomme het in die Baab al-Sharqi-gebied van Sentraal-Bagdad ontplof, en die lewens van nog sewe mense geëis. Altesaam 28 ander mense is in dié ontploffings gewond.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP