Nigerië: Werkers ontruim ná sewe ontvoer word.
2013-02-18 17:16
Kano – ‘n Konstruksiemaatskappy het al sy werknemers by ‘n perseel in die noorde van Nigerië ontruim nadat gewapende mans 'n aanval by die gebou uitgevoer het en sewe buitelanders ontvoer het, het inwoners Maandag aan AFP gesê.
Die polisie in die Bauchi-staat, waar die aanval laat Saterdag plaasgevind het, sê hul top-prioriteit is die vrylating van die gyselaars, wat glo vier Libanese, een Brit, ‘n Griek en ‘n Italianer insluit.
Die aanval by die perseel van die maatskappy, Setraco, was een van die ergste aanvalle waarin buitelanders in onlangse jare in die noorde van Nigerië geteiken is.
Islamiete van Boko Haram, wat blameer word vir honderde sterftes sedert 2009, het voorheen herhaaldelik aanvalle in Bauchi uitgevoer, maar het nog nooit erken dat hy Westerlinge ontvoer het nie.
‘n Splintergroep van Boko Haram, Ansaru, het egter erken dat hy in Desember ‘n Franse burger ontvoer het. Sommige analiste is bekommerd dat dié splintergroep sy fokus nou op buitelandse gyselaars plaas, soos ander groepe in Noord-Afrika wat met Al-Kaïda verbind word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP