Nigerië: Vier opposisiepartye smelt saam
2013-02-07 16:06
Abuja – Nigerië se vier hoof opposisiepartye het ‘n samesmelting aangekondig en gaan ‘n koalisie vorm wat die grootste bedreiging vir pres. Goodluck Jonathan se regerende party kan inhou sedert die einde van militêre beheer in 1999.
Vorige pogings om opposisie-alliansies te vorm het weens binnegevegte en streeksverskille opgebreek, berig Eyewitness News.
Die nuut gevormde party sal getoets word wanneer hy moet saamstem oor ‘n presidensiële kandidaat vir die 2015 verkiesing.
“Daar was nie ‘n tyd in ons nasionale lewe waar verandering meer dringend nodig was nie,” het ‘n verklaring, wat Woensdag deur verteenwoordigers van die vier partye geteken is, gelees.
“Ons, die volgende progressiewe politieke partye, die ACN, ANPP, APGA en CPC, het onderneem om saam te smelt en die All Progressive Congress te word en om aan ons beleërde mense ‘n resep vir vrede en voorspoed te bied.”
Die People's Democratic Party het elke presidensiële verkiesing gewen sedert die terugkeer na burgerlike bewind 14 jaar gelede. Hy beheer sowat twee derdes van die state en het ‘n groot meerderheid in beide huise van die nasionale vergadering.
Die vier partye wat saamsmelt beheer byna al die oorblywende setels en kon daarin slaag om die PDP se meerderheid in die 2011 verkiesings in beide state en in die parlement te verminder.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter